Feeds:
Bydraes
Comments

Ek het nog nie verduidelik wat ek met Stelsel5 bedoel nie. Die idee speel af op drie vlakke: eerstens 5 verstandige praktyke vir die individu; dan 5 verstandige praktyke vir werkspanne; en laastens 5 verstandige praktyke vir organisasies. Oorspronklik was die gedagte om ‘n paar duimreels te formuleer wat maklik en vinnig gememoriseer kan word. Die kenners beweer mens onthou nie maklik meer dinge tegelyk as drie tot vyf verskillende items nie. Die 5 voorgestelde praktyke is dus al gewaagd aan die hogere kant; maar mens kan hulle op die vingers van jou hand aftel.

Hierdie 5 riglyne het te doen met die bestuur van jou PERSOONLIKE ENERGIE. Die beste gebruik van jou eie ENERGIE het beslis baie te doen met hoe mens met hierdie 5 aspekte omgaan: 

      (1)   Dink reg 

      (2)   Ontspan reg  

      (3)   Oefen reg

      (4)   Rus genoeg

      (5)   Eet reg

Kom ons beskou dit as ‘n eerste inset, en dink na oor wat dit vir jou kan doen….

In die IT-pers lees mens deesdae dikwels van die sosiale netwerke op die Internet, die praktyk van “blogging” en die verskillende opsies wat aangebied word. Dit bly nog vir my ‘n ope vraag of mens veel slimmer geword het daardeur wat die behoefte aan werkgroepe op die net betref, en of daar soveel meer bykom as die gewone skakeling per e-pos. Ek bly veral geinteresseerd in hoe ‘n werkgroep (in navorsing of as ‘n studiegroep) kan funksioneer via ‘n blogging meganisme soos hierdie een. Dit sou baie gerieflik wees as ‘n groep vinniger genomineer en betrokke gemaak kon word as ‘n “werkgemeenskap” – sonder dat elkeen eers moet registreer as ‘n gebruiker van die een of ander diens. Hier by WordPress.com se weblog is elkeen vry om deel te neem van buite af deur middel van “kommentaar”; maar as so ‘n persoon ‘n spesifieke bydrae moet pos op die werf, sou dit meer administrasie verg van die stigter; of hy/sy moet deel gemaak word van die webruimte self – maw eers toegelaat word en behoorlik geregistreer word. Daar is moontlik ander makliker maniere? Ek soek raad langs hierdie lyne en sal in die volgende maande na verskeie opsies wil kyk. Enige idees kan gerus aan my gestuur word…. asb via “kommentaar” op hierdie blog.

Aanbieding van die Werkwinkel oor Kwaliteitverbetering

Aanbieding van die Werkwinkel oor Kwaliteitverbetering

 

Na die aangename SAIBI kongres in SA (8-10 Oktober 2008), het ek vier ontwikkelingswerkwinkels oor spanwerk en verbeteringsprojekte by die werk aangebied. Dit was ‘n hele avontuur om weer leermateriaal voor te berei en die beste aanbiedingsmetode te probeer uitwerk om beide abstrakte idees en praktiese tegnieke or te dra. Daar was soveel belangstelling (mense is uitgehonger en wil graag leer!) dat ek die kursus moes herhaal… ons fasiliteit by die werk kon ‘n maksimum van 25 “studente” akkommodeer… en dit was louter plesier om op hierdie manier kundigheid oor te dra. Die hele opleidingspoging was baie vrugbaar, en ek dink dit sal bydra tot ‘n groter bewustheid van spanwerk as ‘n middel tot konstruktiewe verbetering  in ons organisasie.  In Jaar 2009 wil ons juis meer doen aan die algemene bewustheid van ons kwaliteitbestuurstelsel en die metodes vir verbetering. Dienslewering is waaroor dit in my omgewing eintlik gaan – eerder as fisiese produksie; maar die beginsels van kwaliteitbestuur bly vir 90% geldig; dis net hier en daar dat ander tegnieke benodig word wanneer mens met dienste werk, in teenstelling met produksie. Dienste het ‘n meer direkte interaksie met gebruikers/kliente; en dit is nie altyd konkreet en sigbaar nie… die resultate is dus nie maklik meetbaar nie. Die uitdaging is natuurlik om meer te wete te kom van die subjektiewe  ervaring wat ‘n bepaalde klient van jou dienste ervaar.  Dit kan verkry word deur ‘n onderhoud te voer, of deur ‘n vraelys / opname wat aan ‘n aantal kliente gestuur word. Ons het juis vanjaar aan so ‘n opname-metodiek gewerk en agt generiese karakteristieke van ons dienste uitgeken; ‘n respons word dan gevra oor elk van die agt karakteristieke op ‘n eenvoudige skaal van 1 tot 4.

Om by Mount Grace tuis te gaan tydens die SAIBI Konferensie [8-10 Okt 2008] was eenvoudig wonderlike avontuur, en beslis ‘n lekker hoofstuk van my besoek aan SA. Daar was talle interessante hoeke en kante aan die verskillende bydraes; idees om mee te werk.

Die hernuwing van kontak met bekendes uit vorige werkomgewings was vir my ‘n groot bonus. Dan was dit baie interessant om te sien hoe die jonger ingenieurs die hele besigheid ervaar, en hoe hulle probeer om hulle eie verhouding met die beroep te verstewig of selfs nog verder uit te pluis…. heelwat klanke van onsekerheid rondom die BI / IE beroep was daar, soos altyd….; bv waarheen is ons op pad? wie en wat is ons? Waar val ons uit die bus? Hoekom doen ander ouens ons werk, en dies meer – alles baie tipiese kwelvrae. Daar was twee groepe: (1) mense wat voel die “produk” is goed genoeg, dit moet net herverpak word; en (2) mense wat ongemaklik en onrustig voel. Ek is onder diegene wat dink ‘n kreatiewe gevoel van ongemak is baie noodsaaklik: as mens eenmaal die mark getoets het en uitgevind het hoe moeilik die mark is, wanneer  jy weet dat dit nie sommer genoeg is om net ‘n Bedryfsingenieur genoem te word nie. Daar is veel meer in die spel: bestuursvermoens, spesifieke vaardighede, kennis van die modeverskynsels van die dag, IT-vaardighede; kennis van sagteware programme, mensvaardighede, loopbaanbeplanning, en sulke taai goeters. Net om vaagweg aan te dui ons BI’s weet van prosesse, stelsels, produktiwiteit, kwaliteit en verbeteringstegnieke verkoop jou nie vanselfsprekend in die beroepsmark nie – SAP vaardighede, Supply Chain-ervaring, en sulke spesifieke aspekte kan jou net so goed in die mark baat, en miskien eerder lei tot indiensneming, al was jy nooit ‘n Bedryfsingenieur nie. Miskien moet ons besef generiese kwalifikasies is nie meer goed genoeg vir jou loopbaansekerheid as BI nie… ons het as Bedryfsingenieurs spesifieke “selling points” nodig – karakteristieke en vermoens wat ons onderskei en kompeterend maak op die arbeidsmark. Daarby moet ons hierdie dinge boonop in ‘n globale konteks kan doen: en dit verg weer ekstra inspanning: rondom dinge soos taalvermoens, en aanpasbaarheid in verskillende soorte werkomgewings. Al hierdie uitdagings plaas myns insiens aansienlike druk op die BI-rol en die beroep; om nie te praat van die druk op die mens self wat binne die beroep staan nie. Nou ja… hieroor sal mens seker nagte kan gesels. ‘n Goeie opname en studie is sekerlik nodig: daar was ‘n voorstel om ‘n opname te maak van waarmee BI’s spesifiek besig is en waar hulle tans in diens staan. Dit sou egter nie die verlore kanse (die opportunity costs) uitwys nie – daardie poste wat BI’s kon gevul het, as die bedryf geweet het waarvoor hulle moet soek.

Bedryfsingenieur in Doha

Bedryfsingenieur in Doha

Om hoog bokant die woestyn in ‘n vliegtuig uit te styg tot net onder die sterre, en dan op te merk hoe die rigtingwyser op die elektroniese skerm suidwaarts draai… is iets om na uit te sien! Dit bly ‘n piekervaring.

Ek is op pad na Suid-Afrika en sal daar wees vanaf Vrydag 26 September tot Dinsdag 14 Oktober.  Die hoofdoel van my besoek is om deel te neem aan die jaarlikse konferensie van die SA Instituut vir Bedryfsingenieurs vanaf 8 tot 10 Oktober 2008. Ek berei stukke voor vir ‘n praatjie; en sal die geleentheid he om bietjie te gesels oor die rol van die Bedryfsingenieur/of dan die Stelselspesialis in die bedryf, gegrond op my ervarings van die afgelope 18 maande in Ras Laffan Industrial City. Ek sien geweldig uit na die ontmoeting met oud-kollegas van die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van Johannesburg; selfs ook van die Universiteit van die Witwatersrand. Ek sal ook graag wil hoor wat die sienings rondom die BI se taak nou is – dit is die tema van die konferensie; en daar sal ‘n Industrie-forum gehou word, waaraan ek ook gaan deelneem. Ek hoop om terug te rapporteer in hierdie blog wanneer ek terugkom. Tot later – meer oor die SAIBI Konferensie! Een van ons uitdagings as bedryfsingenieurs bly om die balans tussen spesialiswerk en algemene vaardighede te handhaaf; en verder om in die hele proses nie ‘n eie identiteit in te boet nie. Maar dit is ongeveer vir al die ander ingenieursberoepe dieselfde; almal neig om oor hulle formele grense te werk. Interessant genoeg gebeur dit ook met die suiwer wetenskappe, en mens kan nie die einde sien waar die post-modernisme ons heen gaan neem nie!! Bedryfsingenieurs word ondernemers (aptekers, forrelboere, skaapboere), en hulle werk aan banke se strategiee, ontwerp sagteware of verbeter vervaardigingsprosesse… wat presies is hierdie beroep?

Hoekom stelsel5?

Ek het oor die afgelope jare baie te doen gehad met die uitdagings om organisasie te verander of te verbeter; en het ook ‘n bietjie akademiese werk daaroor gedoen, klasse doseer wat daarmee verband hou en referate uitgewerk. Op die oomblik werk ek as bestuurskonsultant in die energiebedryf in die Midde-Ooste, volgens ‘n dienskontrak, en kry byna elke dag prakties te doen met die omgewings waarin mense sin moet maak uit hulle beroep en werk. Sowat tien jaar gelede het ek in samewerking met dr Piet Muller gewerk aan ‘n generiese strategie vir organisasieverbetering, en ons het dit destyds “Stelsel5″ gedoop. Daarna het ek werkwinkels aangebied oor lewensmissies, en het sodoende ook iets prakties uitgewerk vir individue: dws ‘n “Stelsel5″ vir individuele werk. Dit was maar alles resepte waaromheen ‘n meer volledige benadering uitgewerk kan word in ‘n spesifieke geval, en binne ‘n spesifieke konteks. Ek sal mettertyd op hierdie werf dus twee variasies van “Stelsel5″ (vir organisasies, en vir individue) verder wil verduidelik en bespreek. Ek het egter meer ten doel om gemaklik te gesels, en nie te formeel te raak nie; dit klink seker al formeel genoeg, nie waar nie? – Meinhard.

Baie welkom by my geselswerf en dinkwerf… ek gaan sulke skryfsels hier laat oor werk, stelseldenke, ingenieurswese, bestuurskwessies en so meer; soms filosofie, en ander dinge tussen-in. Ek weet die oorgrote meerderheid van ons het kwessies rondom werk, aanstellings, kodes en waardes, organisasies, en dies meer..voeg nog loopbaankwessies en oorlewing en ekonomiese dinge alles in een pot! Baie om oor te gesels. Omdat dit my skryfarea is gaan ek seker die meeste praatwerk doen en die blogs van tyd tot tyd aanvul. Voel asb vry om kommentaar te lewer en jou eie siening deur te gee. Ek weet nie nou al waarheen die blogwerf gaan nie, en ek sal  probeer groei saam met die werf. Kom ons hoop die tegnologie ondersteun hierdie gesprek op ‘n volhoubare manier, en dat daar iets vrugbaars gebore word uit almal se insette en denke. Skryf asseblief vir my en volg die aanwysings na ander Blogs waarby ek betrokke is. Intussen – baie dankie vir jou besoek en belangstelling; dit word waardeer!!  :-) Meinhard.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.