Om by Mount Grace tuis te gaan tydens die SAIBI Konferensie [8-10 Okt 2008] was eenvoudig wonderlike avontuur, en beslis ‘n lekker hoofstuk van my besoek aan SA. Daar was talle interessante hoeke en kante aan die verskillende bydraes; idees om mee te werk.
Die hernuwing van kontak met bekendes uit vorige werkomgewings was vir my ‘n groot bonus. Dan was dit baie interessant om te sien hoe die jonger ingenieurs die hele besigheid ervaar, en hoe hulle probeer om hulle eie verhouding met die beroep te verstewig of selfs nog verder uit te pluis…. heelwat klanke van onsekerheid rondom die BI / IE beroep was daar, soos altyd….; bv waarheen is ons op pad? wie en wat is ons? Waar val ons uit die bus? Hoekom doen ander ouens ons werk, en dies meer – alles baie tipiese kwelvrae. Daar was twee groepe: (1) mense wat voel die “produk” is goed genoeg, dit moet net herverpak word; en (2) mense wat ongemaklik en onrustig voel. Ek is onder diegene wat dink ‘n kreatiewe gevoel van ongemak is baie noodsaaklik: as mens eenmaal die mark getoets het en uitgevind het hoe moeilik die mark is, wanneer jy weet dat dit nie sommer genoeg is om net ‘n Bedryfsingenieur genoem te word nie. Daar is veel meer in die spel: bestuursvermoens, spesifieke vaardighede, kennis van die modeverskynsels van die dag, IT-vaardighede; kennis van sagteware programme, mensvaardighede, loopbaanbeplanning, en sulke taai goeters. Net om vaagweg aan te dui ons BI’s weet van prosesse, stelsels, produktiwiteit, kwaliteit en verbeteringstegnieke verkoop jou nie vanselfsprekend in die beroepsmark nie – SAP vaardighede, Supply Chain-ervaring, en sulke spesifieke aspekte kan jou net so goed in die mark baat, en miskien eerder lei tot indiensneming, al was jy nooit ‘n Bedryfsingenieur nie. Miskien moet ons besef generiese kwalifikasies is nie meer goed genoeg vir jou loopbaansekerheid as BI nie… ons het as Bedryfsingenieurs spesifieke “selling points” nodig – karakteristieke en vermoens wat ons onderskei en kompeterend maak op die arbeidsmark. Daarby moet ons hierdie dinge boonop in ‘n globale konteks kan doen: en dit verg weer ekstra inspanning: rondom dinge soos taalvermoens, en aanpasbaarheid in verskillende soorte werkomgewings. Al hierdie uitdagings plaas myns insiens aansienlike druk op die BI-rol en die beroep; om nie te praat van die druk op die mens self wat binne die beroep staan nie. Nou ja… hieroor sal mens seker nagte kan gesels. ‘n Goeie opname en studie is sekerlik nodig: daar was ‘n voorstel om ‘n opname te maak van waarmee BI’s spesifiek besig is en waar hulle tans in diens staan. Dit sou egter nie die verlore kanse (die opportunity costs) uitwys nie – daardie poste wat BI’s kon gevul het, as die bedryf geweet het waarvoor hulle moet soek.