
Aanbieding van die Werkwinkel oor Kwaliteitverbetering
Na die aangename SAIBI kongres in SA (8-10 Oktober 2008), het ek vier ontwikkelingswerkwinkels oor spanwerk en verbeteringsprojekte by die werk aangebied. Dit was ‘n hele avontuur om weer leermateriaal voor te berei en die beste aanbiedingsmetode te probeer uitwerk om beide abstrakte idees en praktiese tegnieke or te dra. Daar was soveel belangstelling (mense is uitgehonger en wil graag leer!) dat ek die kursus moes herhaal… ons fasiliteit by die werk kon ‘n maksimum van 25 “studente” akkommodeer… en dit was louter plesier om op hierdie manier kundigheid oor te dra. Die hele opleidingspoging was baie vrugbaar, en ek dink dit sal bydra tot ‘n groter bewustheid van spanwerk as ‘n middel tot konstruktiewe verbetering in ons organisasie. In Jaar 2009 wil ons juis meer doen aan die algemene bewustheid van ons kwaliteitbestuurstelsel en die metodes vir verbetering. Dienslewering is waaroor dit in my omgewing eintlik gaan – eerder as fisiese produksie; maar die beginsels van kwaliteitbestuur bly vir 90% geldig; dis net hier en daar dat ander tegnieke benodig word wanneer mens met dienste werk, in teenstelling met produksie. Dienste het ‘n meer direkte interaksie met gebruikers/kliente; en dit is nie altyd konkreet en sigbaar nie… die resultate is dus nie maklik meetbaar nie. Die uitdaging is natuurlik om meer te wete te kom van die subjektiewe ervaring wat ‘n bepaalde klient van jou dienste ervaar. Dit kan verkry word deur ‘n onderhoud te voer, of deur ‘n vraelys / opname wat aan ‘n aantal kliente gestuur word. Ons het juis vanjaar aan so ‘n opname-metodiek gewerk en agt generiese karakteristieke van ons dienste uitgeken; ‘n respons word dan gevra oor elk van die agt karakteristieke op ‘n eenvoudige skaal van 1 tot 4.