In die IT-pers lees mens deesdae dikwels van die sosiale netwerke op die Internet, die praktyk van “blogging” en die verskillende opsies wat aangebied word. Dit bly nog vir my ‘n ope vraag of mens veel slimmer geword het daardeur wat die behoefte aan werkgroepe op die net betref, en of daar soveel meer bykom as die gewone skakeling per e-pos. Ek bly veral geinteresseerd in hoe ‘n werkgroep (in navorsing of as ‘n studiegroep) kan funksioneer via ‘n blogging meganisme soos hierdie een. Dit sou baie gerieflik wees as ‘n groep vinniger genomineer en betrokke gemaak kon word as ‘n “werkgemeenskap” – sonder dat elkeen eers moet registreer as ‘n gebruiker van die een of ander diens. Hier by WordPress.com se weblog is elkeen vry om deel te neem van buite af deur middel van “kommentaar”; maar as so ‘n persoon ‘n spesifieke bydrae moet pos op die werf, sou dit meer administrasie verg van die stigter; of hy/sy moet deel gemaak word van die webruimte self – maw eers toegelaat word en behoorlik geregistreer word. Daar is moontlik ander makliker maniere? Ek soek raad langs hierdie lyne en sal in die volgende maande na verskeie opsies wil kyk. Enige idees kan gerus aan my gestuur word…. asb via “kommentaar” op hierdie blog.